C. Louis Leipoldt (1880-1947)
OKTOBERMAAND
Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies oral op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Otober,
die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.
Dit is die maand Oktober!
Die varkblom is in bloei;
Oor al die seekoeigate
in kafferskuil gegroei;
Die koppies, kort gelede
nog soos ‘n klip so kaal,
Het nou vir welkomsgroetnis
hul mooiste voorgehaal.
Christiaan Frederik Louis Leipoldt is gebore in Worcester in die destydse Kaapkolonie, die vierde kind in sy gesin. Sy pa was ‘n predikant. Hy het grootgeword in Clanwilliam, huisskool gehad — sy moeder wou nie die Leipoldtkinders na die dorp se skool stuur nie — en het daarna gewerk as joernalis onder meer vir De kolonist, en Het dagblad. Hy het ook vir menige oorsese koerante verslag gedoen oor die Tweede Vryheidsoorlog, voordat hy hom in die geneeskunde bekwaam het, in die jare 1902 tot 1907, in Engeland. Die bekende plantkundige Harry Bolus, ‘n lewenslange vriend, het die geld vir sy studies aan hom geleen. Hy het daarna rondgereis oor die wêreld, toe vir ‘n tydperk gewerk as skeepsdokter vir Joseph Pulitzer, skooldokter in Londen, as mediese inspekteur van skole in die Transvaal en toe in Kaapprovinsie, as joernalis en uiteindelik as kinderarts in Kaapstad in 1925. Hy is nooit getroud nie. Hy het wel ‘n seun, Jeff, aangeneem. Hy was gek na die Hantamwyk — ‘n pragtige, bergagtige gebied noord van Kaapstad, en na sy afsterwe in dié stad is hy begrawe in die Hantam, op die Pakhuispas, in die Sederberg, tussen Clanwilliam en Wupperthal.
http://af.wikipedia.org/wiki/C._Louis_Leipoldt